|
Foto: Jill and David se blog 1 Augustus 2010 |
|
Is dit die besef van die middeljare wat my in die spieël begin bekruip? Is dit die vrees vir 2012 en die eerste kuiken wat uit die nes uit moet vlieg? Is dit die gevoel van die mak sirkusleeu wat net te lank agter tralies is, en begin dowwe oë kry?
Iets in my skreeu dit uit: dis tyd vir 'n MOERSE avontuur! Tyd om totaal uit die groef uit te breek. Doen iets wat ek nog nooit voorheen gedoen het nie.
Wel, so paar jaar gelede het ek en Marthinus Britz 'n lesing bygewoon in die Kaap, waar 'n groep mense opgewonde vertel het van die CAmino de Santiago in die Noordweste van Spanje. Destyds net so effens kennis geneem daarvan: Ja, Ja, dis net vir julle Bloubergstrand rykgatte bedoel! Van verlede jaar af begin die roepstem saggies fluister, tot dit nou in my kop begin skreeu: gaan loop 'n deel van die Camino, dit sal jou baie goed doen!
Die pelgrimsreis is al bekend van ten minste die 12e eeu af. Die oorspronklike bedoeling daarvan was om te voet/perd en later ook fietse te reis van jou huis af na CAmpostelo, waar die legende lui dat Jakobus, die broer van Jesus, begrawe sou lê. Iets te make met ikone en ander heilige goeters van die Rooms Katolieke. Nou wel, die legende klink maar baie effentjies, siende dat Jakobus in Jerusalem tereg gestel is. Die mite sê die ander dissipels het sy liggaam geneem, en 'n boot sonder seile of roeispane het by die Middellandse See verskyn, die liggaam geneem, en daar by die einde van die wêreld gaan aflaai, waar dit in latere eeue deur spesiale openbaring aan 'n priester uitgewys is.
Nou kyk, ek het nie 'n saak met heiliges of hulle bene nie. Maar wat my trek, is daardie fisiese uitdaging. Dit lyk of dit 'n baie mooi deel van die wêreld is. Daar is verskriklik baie "refugio's" langs die roete- spesiale "backpackers lodges" net vir pelgrims. Dit kan taai raak- een skof is bv 38 km lank. Daarom moet 'n mens fiks wees, en lig pak, verkieslik nie meer as 10 kg rugsak nie. Dis wat my trek. Ek is tans goed oorgewig, ernstig op pad na 'n hartaanval toe, en sukkel om van die bed af toilet toe te loop sonder om te hyg. Ek voel vasgevang tussen 'n oormaat aardse besittings wat elke dag om aandag vra, en dreig om uitmekaar te val as daar nie DADELIK iets herstel word nie. En die roepstemme van 1700 mense wat almal dadelik huisbesoek wil hê, anders gaan hulle per ongeluk hel toe of so iets, maar net 200 wat rerig iets groter tot stand wil bring wat 'n verskil in die wêreld kan maak. (Oeps- hierdie een moes dalk op my anonieme blog verskyn het! :-) )
Dis die droom: kry iets om weer fiks voor te word. Kom vry van die aardse dinge. Kom in die natuur, kom in aanraking met mense wat my glad nie as DOMINEE ken nie. Weet nie presies waar ek vanaand slaap, of wat ek gaan eet nie. Ag, ek dink die enkele woordjie waarna ek soek, is 'n stukkie VRYHEID! En hoor dalk net weer die Here se fluisterstem in die storms en die wind, die son en die see.
Waar anders in die wêreld kan jy vir amper verniet deur 'n mooi land stap, waar jy as pelgrim met groot gasvryheid behandel word, en tyd kry om weer stil te word, sonder selfone wat lui, en mense wat dringend 'n klomp nonsens goeters met jou wil bespreek?
En die droom begin nou vlerke en voete kry. Verlede week my nuwe paar Wolverine Fortis skoene op die kredietkaart gekoop. Gisteraand my vliegkaartjie met my huislening betaal. Lufthansa via Frankfurt na Madrid: 27 Mei 2011. Terug na die realiteit 20 Junie 2011. Wens ek kon nog langer wegraak. Maar Annelie kan nie saamgaan nie, en ek verlang te veel na 3 weke- die nadeel van 'n gelukkige huwelik!
Het nou al 10 km op my nuwe skoene gesit. Blase: 3.
Nog baie ver na 39 km/dag af, maar ons het 'n begin gemaak. Campostelo, hier kom ek!
Foto: Wolverine Fortis ICS Hiking Boots- van hulle website af. Hulle waarborg dit is die lekkerste skoen wat jy nog ooit gedra het, of jou geld terug na 'n maand.