Ek het vanoggend opgestaan, en besluit: tot hier toe en nie verder nie. Ek het baie verlof, ek het 'n karavaan, en ek is nou lus vir die see. Geld is nou natuurlik 'n ander kwessie.... Maar nou ja- ek bel ATKV Natalia by Winkelspruit, en siedaar- daar is net een karavaanstaanplek beskikbaar. Is dit nou nie 'n teken van Bo af nie, praat ek myself verder in hierdie storie in.
Toe begin die geskarrel. Die karavaan was drie jaar laas verder as 20 km van die huis af! Die wielbearings moes gekyk word, bande gepomp word, perdebyneste uit die elektriese proppe verwyder word, afgespuit word... Niks onoorkombaar vir 'n man wat more sy tone in die see wil druk nie.
As julle nie lank voor die tyd hiervan geweet het nie, liewe vriende, ek ook nie! Tot vanoggend was ek more op pad skoonma toe. Maar die lewe is 'n reis, en soms kan ons self die stuurwiel draai by die Ben Schoeman- links op die N3, of regs op die N1.
Liewe see, hier kom ons!
Foto- die laaste keer wat ons by Natalia was, net na Stephan se geboorte in 2000.
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sĂȘ jy?