Hierdie is 'n preek vir NG Gemeente Nylstroom-Oos op 5 Mei 2013.
Inleiding
In die ou dae het 'n plattelandse dominee eendag rondgestap,
en toe op 'n baie vreemde toneel afgekom. Daar was 'n jong seun, wat by 'n wa
gestaan het. Die wa se vrag hooibale het afgeval en op 'n hoop gelê. Dit was baie warm,
maar die jong man het verwoed geprobeer om die hooibale weer terug op die wa te
kry. Hy was papnat gesweet, en het na sy asem gehyg.
Die
dominee het hom gestop en gesê hy lyk darem baie warm, wil hy nie net 'n oomblik stop en
water drink dat hy kan beter voel nie? "Nee dankie", sê die jong man-
"my pa gaan nie daarvan hou nie!"
Die dominee sê vir hom:
"Maar alle mense mag mos soms darem 'n breuk ook vat! Kom, rus so
bietjie dat jy kan beter voel!"
"
Nee", sê die jongman, "my pa gaan nie daarvan hou nie. "
Die
dominee het sommer omgekrap geraak. Hy sê toe: "Klink my jou pa is 'n
regte slawedrywer! Waar kan ek hom in die hande kry, ek gaan verseker vir hom
iets te sê hê oor hoe hy jou behandel! "
"Wel", sê die jongman- "hy lê daar onder die hooibale... "
Wat op
aarde leer ons uit hierdie verhaal? Die jong man het geweet wat hy moes doen.
Daar was 'n sin vir dringendheid by hom,
hy was doelgerig en niemand, nie eers die dominee, kon hom van sy koers
afhaal nie. Maar dit het nie gekeer dat
iemand hom probeer stop het nie!
Die dominee het die situasie
heeltemal verkeerd verstaan. Hy was oortuig dat hy reg was, en hy het alles in
sy vermoë probeer om die jong man te laat ophou met wat hy besig is. Wat het
dit met vanoggend se teks te doen?
Die kerk in Kolosse het ook so
'n probleem gehad. Hulle was 'n doelgerigte kerk gewees. Hulle het baie hard
probeer om hulle Hemelse Vader te verheerlik.
Paulus het selfs vir hulle 'n brief geskryf waarin hy hulle aanprys vir
hulle geloof, en hulle liefde.
Maar
daar was iemand wat hulle probeer stop het met wat hulle besig was. Paulus het in Kol 2:8 vir hulle gewaarsku:
Daar was godsdienstige mense in Kolosse wat die
kerk probeer stop het in waarmee hulle besig was. Hierdie mense het allerhande vroom praatjies
gehad, maar die mense weggelei van die basis van hulle geloof af. Ander dinge
as Jesus het skielik belangrik geword.
Dit is vandag tyd om weer oor
hierdie dinge te praat. Want daar is vandag weer sulke stemme soos destyds in
Kolosse. Daar is mense wat allerhande interessante teorië oor die geestelike
lewe het. Party wil weer heeltemal die Joodse name vir God as die enigste Name gebruik.
Party wil weer die Sabbatdag soos in die Ou Testament hou. Party wil hê jy moet
in tale kan praat om gelowig te wees. Jy
moet kan profeteer. Ek is verbaas dat
iemand nog nie weer die besnydenis ook wil hê nie! Baie teorieë word voorgehou as Die Waarheid-
en word gesê die Kerk mislei jou. So word die kerk al meer opgebreek deur 'n
klomp teorieë wat as Die Waarheid verkondig word.
Dis waarteen Paulus dit in
Kolosse gehad het. Dis waaroor ek so lekker omgekrap raak deesdae.
Daar is net een Waarheid in die
kerk- en dit is die Persoon van Jesus Christus. Jesus het gesê: Ek is die Weg,
en die Waarheid, en die Lewe...
Alles anders is bysake! Die Waarheid is Jesus!
As jy vergeet wie Jesus is, en
as jy vergeet wat Hy vir jou gedoen het,
dan sal jy altyd 'n teiken vir dwaalleer wees. As jy nie op die fondament van Jesus jou
geloof bou nie, gaan jou geloofshuisie êrens inmekaar tuimel.
Daarom begin Paulus sy brief aan
die Kolossense om weer te herinner wie Jesus is, en wat Hy alles vir ons gedoen
het.
1. A.
Jesus is ‘n ewigheid al ons Middelaar.
Wanneer ‘n mens Kol 1:15-20 in Grieks lees, is dit
pragtige poësie, met ‘n baie duidelike ritme. Dit word algemeen aanvaar dat dit
‘n gesang uit die Vroë Kerk was, wat Paulus hier aanhaal. Dit is ‘n gesang wat
die eerste Christene herinner het wie Jesus is.
1. Jesus is die Seun van God.
Jesus was nie maar net nog ‘n goeie mens êrens in die
antieke geskiedenis nie. Hy is nie net ‘n profeet soos ‘n Elia of ‘n Jesaja van
ouds nie. Hy was nie ‘n aardse Koning met baie mag, soos Dawid nie. Jesus staan
in ‘n heel unieke verhouding met God. Hy is self ook ewige God, deel van die
Drie-Eenheid wat aan ons geopenbaar word in die Bybel. Daarom is sy lewe op aarde ook die grootste
gebeurtenis ooit in die geskiedenis, toe God self in die volheid van die tyd sy
Seun gestuur het om sy liefde aan die wêreld bekend te maak.
2. Jesus is die Beeld van God.
Van die mense in Kolosse het geglo dat God nie die
aarde geskep het nie, aangesien Hy niks sou maak wat boos en sleg is nie. Alle
stoflike dinge, insluitend ons menslike liggaam, was volgens hierdie tipies
Griekse denkwyse sleg, en kon daarom nie van God af kom nie.
Maar Paulus stel Jesus weer aan hulle voor. Deur sy
wese, ook sy Liggaam, vertoon Hy die beeld van God. God het die mens, vir Adam
en Eva, geskape as sy beeld. Maar met die sondeval het die beeld van God in die
mens gebreek. Vir baie jare het hierdie wêreld nie meer die beeld van God
gesien nie. Totdat Jesus as mens gebore is. En Jesus was ook mens, waarlik
mens, maar sonder sonde. En daarom kon Hy weer die beeld van God vertoon. Die
apostel Johannes het gevra- wil jy sien hoe lyk die Vader? Kyk dan na die Seun.
(Joh 14:9).
‘n Volgende dwaalleer in Kolosse was dat Jesus nie die
Seun van God was nie, maar net nog een van die talle tussengangers tussen God
en mens. Dit is ‘n dwaalleer wat vandag nog steeds voorkom in die wêreld. Baie
mense glo vandag dat Jesus net nog ‘n goeie mens was, soos ‘n Mandela, of ‘n
Gandhi. Selfs Mohammed, die vader van Islam, het in die Koran Jesus ingeskryf
as net nog ‘n profeet. Was Jesus net ‘n
goeie mens?
3. Jesus is die Eersgeborene (Eerste) van die
Skepping.
Paulus doen groot moeite om Jesus aan ons voor te stel
as Ewige God, van die begin af saam met die Vader. Hy was daar voor die
Skepping. Dit is mos wat Johannes ook vir ons in hoofstuk 1 van sy evangelie sê:
In die begin was die Woord daar... en die Woord was by God, en die Woord was
self God. Hierdie Woord is Jesus.
Middelaar- dit is ‘n tussenganger, iemand wat dinge
laat gebeur.
Paulus sê as ons die Skepping wil verstaan, kan ons
nie dit indink sonder die Seun van God nie.
Vers 16- “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die
aarde is, alles wat gesien kan word, en alles wat nie gesien kan word nie.”
Die skepping staan nie los van Jesus nie. Johannes 13
stem saam en sê ook dat alle dinge deur Hom tot stand gekom het. Paulus sê Hy
is aangestel bo alle konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Paulus wil
Jesus voorstel as die Verlosser wat van die begin af in ons wêreld betrokke is.
Hierdie is sy wêreld, want alles is vir Hom geskep. En omdat hierdie sy wêreld
is, kan ‘n mens net waarlik gelukkig wees as jy in ‘n verhouding met die Koning
van die wêreld lewe. Dit is hoekom hierdie wêreld so deurmekaar is- die Koning
word nie erken en geëer nie.
5. Jesus hou alles in stand.
Vers 17 sê: “Voor alles was Hy al daar, en deur
Hom bly alles in stand.”
Een van die vroegste dwaalleer was dié van Arius. Hy
het gesê dat daar ‘n tyd was wat Jesus nie was nie. Of anders gestel, daar was
‘n tyd wat Jesus nie bestaan het nie. En baie mense vandag dink ook so. Hulle
dink dat Jesus eers met sy geboorte op daardie eerste Kersdag op die wêreld se
verhoog verskyn het. En tog leer ken ons
Hom in die Woord as Ewige Here, wat alles onderhou. Wat beteken dit vir ons
vandag? Jesus is my Ewige Here, wat altyd vir my sorg.
6. Jesus is die Hoof van die kerk.
In Romeine 12, en 1 Kor 12, gebruik Paulus die beeld
dat die Kerk die liggaam van Christus is. Elke gelowige is deel van hierdie
liggaam, en het sy eie unieke funksie binne die kerk. Maar wie is die Hoof van
die kerk. Gelukkig nie die dominee of die kerkraad nie! Vers 18 gee die
antwoord.
“Hy is die Hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is
die oorsprong daarvan. Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan
het, sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.”
Die Opgestane Here, die Lewende Here, is die Hoof van
die kerk. Deur Jesus se opstanding uit die dood het Hy die nuwe lewe vir
gelowiges gewaarborg. Die opstanding van die Here Jesus uit die dood was die
oorwinning oor alle magte wat die mensdom gevange gehou het. Met daardie eerste
Paassondag het Jesus nuwe hoop en nuwe lewe vir die mensdom gebring. En dit is dan ook hoekom die kerk bestaan-
ons moet die boodskap van hoop en nuwe lewe aan alle mense verkondig, en dit
met ons lewens vir hulle wys. Kan die wêreld regtig in ons lewens sien dat ons
anders is, dat daar ‘n nuwe lewe in ons te sien is? Ons moet elkeen bekend wees
as mense wat hoop bring. Kry ons dit reg? Of kla ons ook maar net soveel soos
die mense sonder enige hoop?
7. Jesus is waarlik God en Verlosser.
Vers 19 sê dat God met sy volle wese in Jesus woon.
Alle mag wat God as Skepper en Onderhouer van die heelal het, het Hy ook aan
Jesus gegee. God het Homself ten volle aan die wêreld in Jesus geopenbaar. Daar
is geen ander tussenganger of middelaar tussen God en mens as Jesus nie. Deur
Jesus is daar nou vrede met God. v 20 “ God het deur Hom alles met
Homself versoen. Deur die Bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede
herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself
versoen.”
Wie het Jesus se versoening nodig?
2. Elke mens het Jesus as Verlosser nodig.
Die Bybel sê dat elke mens gebore word as vyand van
God. vers 21- “Ook julle was voorheen ver van God af en vyandig gesind
teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse.”
Van nature is ons in opstand teenoor God. Ons leef nie
in ‘n verhouding met Jesus as Koning van die wêreld nie. Mense steur hulle nie
meer aan God nie. Die wêreld se mense word al hoe meer ateïsties.
Maar op ‘n dag begin die Heilige Gees ‘n mens oortuig dat
daar ‘n God is, en dat jy nie meer langer sonder God kan bestaan nie. ‘n
Oorweldigende sondebewustheid pak ‘n mens beet. Jy kom skielik agter hoe die
sonde ‘n skeidsmuur tussen jou en God geword het, wat jy nie self kan wegneem
nie.
Ons kom agter dat die sonde ‘n geweldige kloof tussen
ons en God veroorsaak het. Kan ons self oor hierdie kloof van sonde
spring? Ons kan dan nie eens oor die
Grand Canyon spring met ons eie krag nie. Nie eers die Olimpiese gouemedaljewenner
in verspring kan dit begin oorweeg nie. Hoeveel groter is die kloof tussen God
en mens nie as die Grand Canyon nie! En
geen mens kan eers begin dink dat hy self dié kloof kan oorsteek en vrede met
God verdien nie. Die kloof tussen God en mens, wat sonde veroorsaak het, is
daarvoor veels te wyd.
Hoe kan ons dan weer met God versoen word? Hoe kom ons
in die regte verhouding met God? Daarvoor kan net God sorg. “Maar nou het Hy
ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterf het om julle te
heilig, sonder smet en onberispelik voor hom te stel.”
God het Jesus laat gebore word aan ons kant van die
kloof. En omdat Jesus sonder sonde is, kon Hy die brug word wat die kloof na
God oorbrug. Ons kan nie met sonde voor God verskyn nie. Maar Jesus het al ons
sonde op Hom geneem en daarvoor betaal. Ons sonde het geen skuld meer nie, en
ons is welkom by God. Dit is net
moontlik deur Jesus wat ons sonde wegneem.
Wat is ons verantwoordelikheid in ons verlossing? Ons
moet in geloof aan Jesus vashou.
Vers 23- “Maar dan moet julle vas en sterk bly
staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is
deur die evangelie wat julle gehoor het nie.”
Jesus het vir ons alles gedoen wat nodig is om met God
versoen te word. Hy het saam met die Vader gewerk om vir ons ‘n leefwêreld te
skape. Hy werk saam met die Vader om elke dag vir ons te sorg. Hy het mens
geword, en al ons sonde op Hom geneem. Hy het onskuldig aan die kruis gesterf
sodat ons sonde vergewe kan word. Hy het uit die dood opgestaan, om die ewige
lewe vir ons te waarborg. Hy is die Hoof van die kerk, dié kerk wat die
evangelie aan die wêreld verkondig, wat hoop aan die wêreld bring.
Om waarlik te lewe, moet ons die Koning van die wêreld
ken. Om waarlik gelukkig te wees, moet ons waarlik vir Hom lewe. Ons het Hom
nodig..
Mag ons elkeen daarom aan Hom alleen bly vashou, en
ons nooit laat losruk van die lewende hoop wat Hy vir ons is nie. Mag ons lewenswa nie omval met allerhande onnodige bakleiery oor klein dogmatiese verskilletjies nie. Kom ons fokus daarop om Jesus lief te hê as ons Redder en ons Hoof. En omdat dit Sy opdrag is- kom ons hê mekaar lief!
Amen.
No comments:
Post a Comment
En jy daar, wat sê jy?