So is dit toe maar die pa van die huis se verantwoordelikheid om te sorg vir kos voor ek ook uit is op besoeke vir die aand.
EK kom net agter- al my kos lyk dieselfde! Ek het dringend nodig om ander goeters te leer maak. MAAR: die goed wat dieselfde lyk, proe darem altyd lekker vir my. Jammer vir al my vriende wat dalk al jare dit vrees dat ek vir hulle gaan nooi vir ete...
Gisteraand was dit: Beef Wellington! Ja, my Hollandse vriendin het my mooi saggies daarop gewys dat die regte Beef Wellington in 'n korsdeeg is, en myne is duidelik meer van die Potjiekos genre...
Maar dit is wat beskikbaar was in die huis gister, of goedkoop was by Pick 'n Pay.
Eers het ek die vleis in die beskikbare druiwesap van Wellington geweek. Ek en my goeie vriend van Ellisras het toe nie die Hugenote Kollege verslag klaar bestudeer laas keer nie (interne ou grappie...)
Ek het die vleis mooi verbruin in die gietysterpot, en toe MIldelike Kerrie daarby gegooi. (Ek hoor Masterchef praat van "Caramelize"). Nog so bietjie Old Brown Sherry daarby. Dit is 'n hele ruk op die stoof gelos, om mooi sag te kook. Ek het aartappels in skywe gesny, nog met die skilletjie aan, en bygevoeg. Ook so 500 gram van Pick 'n Pay se naamlose groente.
OP die ander stoofplaatjie het ek Pick 'n Pay se Wilderys met songedroogde tamatie gereed gemaak.
Dit is aan die kinders bedien: Beef Wellington op 'n bed van Wilderys.
Ek dink ek sou punte verloor op Masterchef vir aanbieding- daar kort so bietjie kleur. Maar die smaak- dit was vir my baie lekker. Annelie het dit ook baie geniet om 'n bord warm kos te kry toe sy gisteraand moeg en honger by die huis instap.
Maar wat is die gevolg van sulke goeie dade? Dit word mos nie ongestraf gelaat nie...
Kyk die boodskappie wat vir my gelos word...
Nou vra ek met trane in my navy blou ogies... hoe gaan 'n man ooit wen?