Een en twintig jaar gelede, in 1989, het 'n jong man en 'n jonge dame die Blyderivierspoort staptoer saam aangedurf. Hulle was nog nie getroud nie, en dit het veral twee moeders baie bekommerd gemaak. Gaan dié twee nie stout wees nie? Die saamgeslapery in die hutte het na groot moeilikheid uit 'n ouer se oogpunt gelyk.
Die jong man was al tevore op staptoere. En daarom was hy baie slim, soos enige vierdejaarstudent mos maar dink hulle is. Al die wysheid klaar in pag. In daardie dae was die Blyderivierspoort staptoer vyf dae lank, en by tye nogal baie lank (22 km 4e dag), en baie moeilik- daardie afsak na Swadini toe op dag 5. Daar is ekstra BLIKKIESKOS ingepak, vir noodvoorraad... Warm klere, droë klere, swemklere... Die dekselse rugsakke het omtrent 'n ton elk geweeg- wel so voel enige iets anderkant 20 kg!
Die staptoer was nogal baie veeleisend destyds. Die jong paartjie was so moeg, en het soms so lekker baklei met mekaar, dat daar nie nog krag was om eers te dink aan stout wees in die hutte in die aand nie. Veral nie as die primitiewe geriewe in elk geval gedeel is met 'n klomp ander vreemde mense nie!
Met 'n redelike ernstige Godswonder het hierdie tweetjies se verhouding die staptoer en 'n paar ander mallighede oorleef, en op 31 Maart 2000 is hulle getroud...
Een en twintig jaar later. Die gemeente Nylstroom-Oos hou jaarliks 'n staptoer in Desember. Die twee het intussen ses geword in plaas van een! En die hele gesin besluit om saam te gaan stap. Gelukkig is die moeilikste twee dae weggeneem, die roete eindig nou by Bourke's Luck kolkgate.
En so, in Desember 2010, het Ewald en Annelie en hulle vier kinders, weer 'n keer die Blyderivierspoort staptoer aangedurf.
Een en twintig jaar gaan so verskriklik vinnig verby. Sou die twee jongetjies op die klip ooit kon dink wat nog alles in 21 jaar sou gebeur het? Die aanpassing van die huwelik, die klaar studeer, die Weermag. Die vroeë beroepslewe, die soek na 'n beroep as predikant. Die ouerskap van vier kinders. Die seer van twee miskrame, en dood van familielede. Die opwinding van die Eiffeltoring en die mooi van Skotland in die herfs.
In die normale gang van die lewe voel dit of daar nie regtig iets gebeur nie, en of alles in die lewe net so stadig voortsleur. Kyk 'n mens oor die voetspore van 21 jaar, dan sien 'n mens 'n duidelike reis.
Ja, in hierdie tyd het ons op 'n paar plekke gebly, Huis JBM Hertzog en die wit woonstelle, die plot Staalwater daar buite Bainsvlei, Bloemfontein. Die weermagbasis se treintrokhuis in Kroonstad. Die skoolkoshuis by die HTS Kroonstad. Die stukkende spoorweghuisie in Papenfusstraat 33 in Kroonstad.
Uiteindelik die beroep na Waterberg gemeente toe, die pastorie in Boshoffstraat, en later, die pastorie langs die kerk in Nylstroom-Oos.
Om na 21 jaar weer op dieselfde punt uit te kom waar ons was as jongmense, was vir 'n slag weer baie lekker. Dit het 'n mens se gedagtes sommer weer op ver paaie laat loop. Een en twintig keer om die son gereis. In hierdie tyd het ons baie liefgehad, soms baklei, baie gelag en soms gehuil, baie geëet en soms geoefen...
Die voetspore agter ons sal ek nie anders wou hê nie. Hoe lyk die voetspore vorentoe? Sal ons oor 21 jaar nog hier wees? Sal ons nog gesond genoeg wees om nog 'n keer die Blyderivierspoort te stap? Gaan ons nog wonderlike mense ontmoet wat ons lewens gaan verryk? Gaan ons nog wonderlike ervarings hê, mooi plekke sien? Gaan die volgende skof net so goed wees soos die eerste een?
Wel, daar is net een manier om uit te vind. Kom ons loop...